HOËRSKOOL KROONSTAD BOERDERY

Die boerdery beskik oor twee plase naamlik, Fraauitzicht (614 ha) en Rustpan (214 ha).  Fraaiuitzicht grens aan die Departement Korrektiewe Dienste en is tussen die Viljoenskroon en Vredefort/Paryspad geleë.  Rustpan is geleë op die ou Lindleypad en grens aan die Valsrivier.

Fraaiuitzicht beskik oor 308 ha bewerkbare grond.  Die grond is as volg gekarteer:  97 ha hoë potensiële grond, 56,7 ha medium potensiële grond, 55,9 ha hoë potensiaal weiding en 98.7 ha lae potensiaal weiding.

Gediversifiseerde boerdery word beoefen met die volgende vertakkings:  kontantgewasse (mielies as hoofgewas met sonneblom en sojabone), kommersiële Bonsmara-kudde (83 teelkoeie, 2 Beefmasterbulle, 2 Santa Gertrudisbulle), kommersiële Merino-kudde (150 teelooie en 6 ramme) en aangeplante weiding (lusern, smutsvinger en tef).

Die saaiprojek van die skool word deur verskeie landbougedrewe maatskappye gerugsteun. Verskeie proewe word deur die verskillende maatskappye onderneem soos kultivar-, bemesting-, onkruiddoder- (voor-opkoms, na-opkoms), bewerkings- (konvensioneel vs minimum bewerking) asook blaarverlies- en haelskade proewe.  Trekkerdemonstrasies met verskillende bewerkingsimplemente word op ‘n gereelde grondslag op die gronde van die boerdery aangebied.  Die boerdery beskik oor ‘n weerstasie waar die atmosferiese- en grondtemperatuur op verskillende dieptes asook grondvog en windspoed uurliks gemonitor word.  Inligtingsdae word op ‘n gereelde grondslag deur die Renosterkop studiegroep waarvan die boerdery ‘n lid is, aangebied.

Die Blouskool – Veeplaas Santa Gertrudisstoet bestaan uit 15 dragtige verse wat deur die Santa Gertrudis Telersgenootskap aan die Boerdery geskenk is.  

Proefwerk geskied op die inname van aanvullings en voere asook die effek daarvan op beeste en skape. 

Die boerdery beskik oor ‘n 4 x 4-baan waar  4 x 4-geesdriftiges hul vernuf kan toets.

Die plaas Rustpan bestaan hoofsaaklik uit natuurlike weiding en word vir die grootste deel van die jaar deur die Bonsmara kudde bewei. 

Die plaas beskik oor waterregte en sowat 30 ha kan uit die Valsrivier besproei word. Huidiglik is daar ‘n spilpunt wat 3 sirkels bedien en dripbesproeiing op die pekanneute

Die besproeiingsgronde word gebruik vir die produksie van lusern.

Die boerdery het reeds sy voelers uitgesteek vir verdere uitbreiding en pekkanneutproduksie sal voortaan deel van die gediversifiseerde boerdery wees.

‘n SKOOL WAT VIR SY LANDBOU SORG, SORG VIR SY TOEKOMS